Tuesday, August 20, 2019

Geintegreerde plaagbestuur - SA Graan

Die opbou van weerstand in insekte en onkruide teen plaagmiddels is seker een van die aspekte in landbou wat vele gesprek ontlok en die bedryf bekommer. ‘n Skuif in populasies van insekte of onkruide is nie dieselfde as die opbou van weerstand nie, maar dit laat ook rooi ligte flikker.

Die ontwikkeling van weerstand in onkruide insekte is die gevol van natuurlike seleksie wat reeds jare gelede deur natuurwetenskaplikes beskryf is.

In die natuur kan seleksiedruk veroorsaak word deur enige iets wat die voortbestaan van die individue in die populasie bedreig. In die geval van onkruide en insekte in die landbou, word die druk hoofsaaklik deur onkruid- en plaagdoders veroorsaak.  Sou 'n boer die heeltyd dieselfde plaagdoder gebruik, selekteer hy/sy uiteraard 'n populasie individue wat oor tyd, weerstand kan opbou teen die chemiese middel.  Weerstandbiededheid in 'n populasie is die gevolg van die seleksiedruk en gebeur nie eensklaps nie, maar oor ‘n tydperk.  

Die antwoord is geintegreerde plaagbestuur. Geintegreerde plaagbestuur is een van die fundamentele beginsels waarop ‘n produsent in sy produksiestelsel op die plaas moet baseer.   Dit vorm die basis van volhoubare produksie.

Geintegreerde plaagbeheer vorm die basis van volhoubare beheer van plae omdat metodes wat ontwerp is om mekaar te komplimenteer, aangewend word in die bestuursprogram. Dit behels die gebruik van ‘n reeks gediviersifieseerde beheermetodes wat fisiese, chemiese en biologiese metodes integreer sonder om oormatig op een enkele manier staat te maak.

Hierdie beginsel geld vir alle middels - onkruid, insek en swamdoders. Plaagmiddels word gegroepeer volgens hulle  meganisme van werking en dit is belangrik om te weet watter middels op dieselfde manier werk.  Om 'n plaagdoder uit een groep af te wissel met 'n ander van dieselfde groep en met dieselfde  meganisme van werking,  gaan geen doel dien nie en gaan nie help om weerstand te voorkom nie.


Onkruidbeheer

Die bestuur en beheer van onkruid in gewasproduksie kan opbrengsverliese verhoed omdat die  kompetisie tussen die gewas en ongewenste plante uitgeskakel word.  Goeie onkruidbeheer kan die verskil tussen sukses en mislukking op die plaas beteken.

Onkruiddoders vergroot die opsies vir onkruidbeheer, omdat die werking minder afhanklik van omgewingsfaktore soos klimaat en grondsoort, is as byvoorbeeld meganiese beheer. Na ‘n bui reën as die grond te nat is, kan onkruiddoders toegedien word en juis uitstekend werk. Daarby kan onkruiddoders deur die besproeiingstelsel of deur ’n vliegtuig toegedien word.
Die doel van ‘n onkruidbeheerprogram is om die onkruidkompetisie met gewas te verminder, onkruidsaadproduksie te beperk en ook te verhoed dat onkruidsaadverserves in die grond opbou of dat die onkruid na ander lande of areas op die plaas versprei. Deur goeie onkruidbeheerpraktyke te volg, kan die ontwikkeling van onkruidweerstand vertraag of selfs verhoed word.  

Dit is daarom belangrik om die volgende bestuursbeginsels na te volg:

  • Goeie onkruidbeheer verminder onkruidgetalle op die land.  So word die kans verminder dat daardie plante wat natuurlik moeilik beheerbaar is, oorleef.  
  • Effektiewe onkruidbeheer met behulp van onkruiddoders begin by nougesette navolging van aanbevelings wat op produk-etikette verskyn.  Lees altyd eers die etiket.
  • Voorkom dat onkruid saad vorm.  Beheer die onkruid vroeg in die seisoen en voordat dit saad vorm en reproduseer.
  • Verhoog die kompetisievermoë van die gewas teenoor dié van onkruid deur die gewas in die deel van die groeiseisoen te vestig wanneer toestande meer ongunstig vir die ontkieming van onkruide is. 
  • Optimaliseer die plantpolulasie van die gewas.  Wanneer die gewasse in nouer rye geplant word, kan dit ook bydra tot beter onkruidbheer omdat minder lig na die grondoppervlak deurgelaat word weens die blaredak wat deur die gewas gevorm word.
  • Wisselbou van gewasse is ‘n goeie bestuurstelsel, ook vir die beheer van onkruid.
  • Wissel onkruiddoders af.  Gebruik middels met verskillende meganismes van werking.  Tenkmengsels van meer as een produk wat meer as een meganisme van werking het, is ‘n goeie opsie om te gebruik mits die vereistes op die etiket gevolg word.
  • Onkruidbeheer moet geskied vanaf voor-opkom van die gewas tot voor oes en selfs na oes. So kan winteronkruide effektief beheer word met die oog op vogbewaring.
  • Onkruidgrootte, en níe grondkleipersentasie, bepaal die onkruiddoderdosis en gevolglik moet net gespuit indien onkruide teenwoordig is.
  • Ken die onkruid op jou lande.  Dit is noodsaaklik dat onkruide geidentifiseer kan word omdat sommige onkruide ondergrondse lopers vorm, of ander wasagtige lagies op die blare het of meer houtagtige stamme vorm.  Al hierdie eienskappe gaan bepaal watter middel die beste resultate gaan gee.
  • Wissel die metodes van onkruidbeheer af.  Bestuur die saadbank deur chemiese toedienings, weiding, of soms meganiese beheer. 
  • Gee aandag aan jou spuittoerusting.  Foutiewe toerusting kan meebring dat sommige individue in die populasie wat beheer word, oorgesien word en tot volwassenheid kan ontwikkel en saad kan vorm.

Geintegreerde onkruidbestuursmaatreels speel nie net ‘n groot rol in die beskerming van opbrengs nie, maar dit is ook kardinaal om die toename van moeilik beheerbare onkruide of selfs die opbou van weerstandige onkruide te beperk.

 

Insekbeheer

Daar is meer as 300 spesies insekte wat landbougewasse soos mielies aanval en wat ‚n invloed op die opbrengs of graad van die graan kan hê. In Afrika is insekte wat mielies aanval meestal endemies en infesteer mielies vanaf omliggende plantegroei soos natuurlike grasse. Van die belangrikste peste wat mielies aanval, behoort aan die Lepidotera-orde met mieliestronkboorders wat die meeste skade aanrig.

Die mees onlangse toevoeging tot die groep in Suiderlike Afrika, is die herfs-kommandowurm wat in die 2016/2017 seisoen in Suid-Afrika geïdentifiseer is.
Die gebruik van Bt-tegnologie (YieldGard® of Bolgard®) in gewasse bied doeltreffende beheer teen insekte in mielies en katoen en vorm ‘n moderne, omgewingsvriendelike basis vir geïntegeerde plaagbeheer in die gewasse.  Bt-tegnologie het die afgelope 20 jaar ʼn groot rol gespeel in die beheer van stronkboorders en bolwurms in Suid Afrika en die gebruik van dié tegnologie het grootliks die oormatige gebruik van meer gevaarlike plaagbeheermiddels uitgeskakel.

Die toepassing van insekweerstandbestuursprogram is van kardinale belang in geïntegreerde plaagbeheer.  So bestuursprogram bestaan uit die volgende komponente:

  • Kennis van die pes se biologie en ekologie.
  • ‘n Rekordhoudingstelsel van die insekdoders wat op ‘n land gebruik is.
  • Die plant van toevlugsareas waar die vatbare insekte kan aanteel en floreer.
  • Die monitoring, aantekening en aanmelding van insekte wat moontlik weerstandig kan wees.
  • Die toepassing van geintegreerde plaagbeheer praktyke.
  • Kommunikasie en opleiding.

’n Toevlugsarea is ’n gedeelte van die plaas wat streng met nie-Bt-mielies aangeplant word. Hier word die stronkboorders dus nooit aan Bt-tegnologie blootgestel nie. Seleksiedruk vir Bt-weerstand is dus onbeduidend en die individuele stronkboorders wat in ’n toevlugsarea voorkom, is feitlik almal vatbaar vir die beheer wat deur die Bt-tegnologie gebied word. Die doel daarvan is om te sorg dat daar ‘n populasie vatbare motte beskikbaar is wat met die tolerante motte wat op die YieldGard-mielies of BollGard-katoen oorleef het,  kan paar.  Sodoende word daar verhoed dat die motte wat oorleef het, met mekaar kan paar en dat die nageslag van die motte tolerant sal wees.

’n Belangrike aspek van die suksesvolle implementering van ’n toevlugsarea en ‘n insekweerstandbestuursprogram is die volgehoue monitering van stronkboorder of bolwurmpopulasies in die YieldGard®- of Bolgard®-aanplanting sodat tydige ingryping kan geskied en insekdoder toegedien kan word sodra dit lyk asof die stronkboorder- of bolwurmspopulasies nie voldoende beheer word nie.



 

Copyright © Bayer AG