Die gevolge van onkruiddoderweerstand kan rampspoedig wees en jou opbrengspotensiaal beduidend beïnvloed as dit nie behoorlik bestuur word nie. Onkruiddoderweerstand vind plaas wanneer ’n onkruidplant dit regkry om te oorleef en te herproduseer nadat ’n onkruiddoder toegedien is, terwyl ander onkruidplante van dieselfde spesie onder normale omstandighede vatbaar is. Die opbou van onkruiddoderweerstand is ’n uitgerekte proses en dikwels word dit slegs na ’n hele ruk raakgesien. Deur die proses van onkruiddoderweerstand te verstaan, kan ’n deeglike weerstandsbestuurstrategie ontwikkel word om die vinnige ontwikkeling van weerstand in jou land in toom te hou voordat dit ’n ernstige bedreiding vir jou boerderypraktyk kan inhou.
Die eerste en belangrikste stap in enige suksesvolle onkruiddoderweerstandsbestuurstrategie, is om die onkruidgetalle so laag as moontlik te hou. Organismes in onkruidplante kan geringe mutasies ondergaan. Hierdie genetiese mutasies kan voordelig of skadelik wees, of dit kan ook geen uitwerking op die plant hê nie. Weerstand teenoor onkruiddoders ontwikkel natuurlik wanneer die ensiem wat deur die onkruiddoder geteiken word, muteer. Mutasies kan ook ander prosesse in die onkruidplant affekteer wat onder andere tot ’n afname in opname of translokasie kan lei. Dit verminder uiteindelik die plant se blootstelling aan die onkruiddoder. Indien ’n onkruiddoder toegedien word, sal hierdie plante oorleef terwyl die res van die normale populasie van dieselfde spesie sal doodgaan.
Omdat hierdie individuele onkruidplante beperkte kompetisie het, kan hulle meer saad produseer wat daartoe lei dat die weerstandige plant baie vinnig vermeerder. Dit word slegs na ’n lang tydperk raakgesien wanneer boere agterkom dat die doeltreffendheid van hulle onkruidbeheerpraktyke begin afneem. Binne drie tot vyf jaar, sal die land oortrek wees met onkruide wat totaal weerstandig is teenoor onkruiddoders. Daarom sal ’n afname in die hoeveelheid onkruidplante in jou land die kanse dat daar selfs net een onkruidplant is wat weerstandig word, beperk.
Nog ’n faktor wat ’n aansienlike impak op onkruiddoderweerstandigheid het, is die langdurige gebruik van dieselfde onkruiddoder of verskillende onkruiddoders met soortgelyke metodes van werking. Wanneer ’n spesifieke onkruiddoder dikwels gebruik word, neem die hoeveelheid druk op die onkruidpopulasie toe, wat ook die moontlikheid dat sekere onkruide weerstandig kan word, verhoog. Deur alternatiewe metodes van werking te gebruik, word daar op verskillende maniere seleksiedruk op onkruidpopulasies geplaas, wat die risiko om weerstandige onkruide te selekteer, verminder.
’n Praktiese manier om onkruidweerstand te bekamp, is om die onkruidplante fisies te verwyder voordat hulle saad vorm. Weerstand is generies-gebaseer aangesien die gene in die saad self gedra word. Daarom moet saadbestuur prioriteit geniet.
Nog ’n doeltreffende onkruidbestuurstelsel wat sal help om onkruiddoderweerstand te voorkom, is om meganiese beheer met chemiese beheer te kombineer. Sodra chemiese beheer geïmplementeer is, kan die onkruid wat oorleef het meganies verwyder word. So word daar dubbel seker gemaak dat al die onkruide uitgeroei word. ’n Geformuleerde produk wat reeds verskillende aktiewe bestanddele met verskillende metodes van werking bevat, kan ook vir doeltreffende onkruidbeheer gebruik word.
Met ’n groot oes, raak doeltreffende onkruidbeheer ’n groot uitdaging. Dit is dan wanneer dit noodsaaklik is om met presisie op te tree, jou onkruidgetalle tot die minimum te beperk en om onkruidweerstandbestuurstrategieë toe te pas wat jou land teen onkruiddoderweerstand sal beskerm.
Bronne:
Andreu Taberner Palou, Alicia Cirujeda Ranzenberger en Carlos Zaragoza Larios. 2008. Management of Herbicide-Resistant Weed Populations. Skakel: http://www.fao.org/fileadmin/templates/agphome/documents/Biodiversity-pollination/Weeds/Docs/ResistEnglish.pdf
ANR-publikasie. Selection Pressure, Shifting Populations, and Herbicide Resistance and Tolerance. Universiteit van Kalifornië. Skakel: https://escholarship.org/uc/item/99d0n2mj