Prosario - Aviator

Swartstam in kanola: Voortydige beheer is jou wapen tot sukses


Kanola vorm ’n belangrike deel van produsente se wisselbouprogramme en die volhoubare produksie van gewasse in die Wes-Kaap. Swartstam (Leptosphaeria maculans/Phoma lingam) is een van die siektes in kanola wat tot groot opbrengsverliese kan lei. Waar die swam die weerstand van kultivars oorkom het, kan verliese van 50% tot 90% voorkom.

Lewensiklus van Swartstam

Verskeie faktore kan bydra tot die ontwikkeling van die siekte. Die hoofbron van die primêre infeksie is kanola-residue. Die inokulum kan egter ook deur die saad oorgedra word (diagram 1). Die impak tussen seisoene as gevolg van saad is egter klein as dit vergelyk word met die inokulum van besmette stoppel van vorige jare.


lewensiklus

Diagram 1: Die lewensiklus van Swartstam


Seisoenale omstandighede speel ’n groot rol by die vlak van infeksie wat verwag kan word. Reën en koel weer stimuleer die ontwikkeling van spore en klam toestande veroorsaak die vrystelling van swartstamspore van kanolastoppel wat op die oppervlak voorkom. Swartstamspore word hoofsaaklik deur die wind versprei met die hoogste persentasie binne 500 meter van enige kanolastoppel. Spore word vanaf die stoppel vrygestel totdat die stoppel heeltemal afbreek. Dit kan tot vier jaar neem voordat die stoppel afgebreek het (sien diagram 2).


lewensiklus

Diagram 2: Die vrystelling van spore oor vier seisoene in Wes-Australië

(https://www.agric.wa.gov.au/canola/managing-blackleg-canola)


Die swartstampatogeen kan die plant op enige stadium infekteer, maar die vroeë saailinginfeksie het die grootste kans om tot kroonkankers later in die seisoen te ontwikkel, wat die grootste impak op opbrengsverlies het.


Tipe infeksie: blaar- en kroonkanker

Blaarinfeksie het byna geen impak op opbrengs nie, maar dit is hier waar die patogeen vanaf die letsel op die saailingblaar deur die blaarpetiool en teen die stam af na die kroon van die saailing groei om later in die seisoen kroonkanker te vorm.

Swartstam in Kanola

Figuur 1: Swartstamletsel op die blaar.

Swartstam in Kanola

Figuur 2: Swartstaminfeksie in die stam.

Swartstam in Kanola

Figuur 3: Kroonkanker by kanola wat tot die afsterwing van die plant kan lei

lewensiklus

In hierdie navorsing het Hwang en Strelkov ’n negatiewe korrelasie tussen die vlak van swartstambesmetting en opbrengs gevind. Elke toename per eenheid op die skaal van een tot vyf kan ’n opbrengsverlies van 17.2% tot gevolg hê.


Die erns van swartstambesmetting word bepaal op ’n skaal van nul tot vyf, waar nul geen besmetting verteenwoordig en vyf dui op die afsterwe van die plant. (Kanolaraad van Kanada se webtuiste: blackleg.ca)

Swartstam-blaredakinfeksie (BDI) (Blackleg upper canopy infection – UCI)


As spore later in die seisoen vanaf die stoppel vrygestel word, lei dit tot blaredakinfeksie. Dit is moontlik dat Swartstam alle dele van die kanolaplant kan affekteer. Blaredakinfeksie (BDI) is ’n kollektiewe term wat gebruik word om die infeksie van die blomme, stam, peule en sytakke te beskryf.

BDI het oor die laaste paar jaar in Australië toegeneem en kan geassosieer word met ’n vroeër blomperiode omdat kultivars vroeër geplant word en die gewas ’n vinniger fenologiese ontwikkeling gedurende die warmer herfs en winter ondervind. BDI is ook al in Suid-Afrika waargeneem.

Swartstam in Kanola

Figuur 4: Tipiese simptome van blaredakinfeksie Foto’s: Steve Marcroft

Daar is ook aanduidings van vertraagde en verlengde vrystelling van swartstamspore in stelsels waar stoppel bewaar word en waar daar meer kanola aangeplant word. Daar is egter nog baie vrae rondom BDI en die faktore wat bydra tot die ontwikkeling daarvan. Dit word tans steeds ondersoek.

Navorsing het aangedui dat opbrengsverliese tot 30% kan wees. Die effek op opbrengs hang af van die tyd van besmetting en watter gedeelte van die plant geïnfekteer word. Blomverlies as gevolg van infeksie van die blomme of pedunkels het nie so ’n groot uitwerking op die verlaging van opbrengs nie, want die kanolaplant kan kompenseer deur meer blomme te produseer.

Wanneer die swam egter die geassosieërde sytakke infekteer, kan saadset en graanvul van die peule geaffekteer word. Infeksie van die peule of pedunkels nadat die peule gevorm het, kan groot oesverliese tot gevolg hê. Geïnfekteerde sytakke en infeksie van die boonste gedeelte van die hoofhalm kan alle ontwikkelende blomme en peule bokant die punt van infeksie beïnvloed, wat veroorsaak dat peul- en saadset verlaag en lei tot kleiner sade. Ernstige infeksies kan stamme en sytakke laat afbreek en voortydige rypwording laat plaasvind wat die oopspring van peule veroorsaak. Dit kan ook tot gevolg hê dat die korrekte plantsnystadium moeilik bepaalbaar is omdat daar verskille is tussen plante wat geaffekteer is deur Swartstam, al dan nie.

Fisiese skade deur insekte, hael of ryp veroorsaak dat die swam die plant kan binnedring en dit kan tot gevolg hê dat BDI-simptome op die hoofstam en peule kan voorkom.


Swambeheer vir Swartstam – Kroonkanker

Swambeheer moet toegepas word wanneer die 4–6-blaarstadium bereik word.

Die rede vir die vroeë bespuiting is omdat infeksie reeds vroeg kan plaasvind wat dan tot kroonkankers later in die seisoen lei.


Swambeheer van blaredakinfeksie

Indien BDI voorkom, is daar gevind dat swammiddels wat vir Sclerotiniabeheer gebruik word effektief is om die BDI-infeksiedruk te verlaag. Aanwending van Prosaro® en/of Aviator® Xpro™ vir Sclerotinia by ongeveer 30%-blom kan ook beskerming van BDI-swartstaminfeksie bied gedurende vroeë blom.


Weerstandsbestuur van chemiese groepe uit Australië vir Swartstam en Sclerotinia

Groep 3 – Demetileen Inhibeerder (DMI)

Groep 7 + 3 – Suksinaat Dehidrogenase Inhibeerder (SDHI) + Demetileen Inhibeerder (DMI)

Groep 11 – Quinone buite-inhibeerder (QOI)

Groep 11 + 3 Quinone buite-inhibeerder (QOI) + DMI

· Swammiddels moet voorkomend of by aanvang van die siekte gebruik word. As die siekte reeds gevestig is, kan optimale beheer nie verwag word nie en die moontlikheid om vir weerstand te selekteer raak groter. Sclerotinia-toedienings moet gedurende die blomperiode gedoen word. Sclerotinia-swammiddeltoedienings kan seleksiedruk op swartstampopulasies plaas.

· In hoëdruk-omgewings moet geïntegreerde bestuur toegepas word om swammiddelweerstand te verlaag. Dit behels die aanplant van kanola 500 meter vanaf die vorige jaar se stoppel, die gebruik van weerstandbiedende kultivars (wissel kultivars met verskillende weerstandsgene af), die gebruik van alternatiewe swammiddels uit verskillende groepe en die toepassing van stoppelbestuur.

· Die risiko om swamdoderweerstand te ontwikkel kan verlaag word deur swamdodergroepe vir swartstambestuur as mengels, ko-formulasies of -groepe af te wissel.

· As ’n Groep 7-saadbehandeling met blaaraktiwiteit vir Swartstam gebruik word (soos op die etiket bepaal), moet die swammiddel wat gebruik word as bespuiting tussen 4–6-blaarstadium nie ’n Groep 7-swammiddel wees nie.

· Moenie meer as twee swammiddels per seisoen gebruik wat in Groep 7 val nie.

· Moenie meer as twee opeenvolgende toedienings van Groep 3-swammiddels toedien nie.

· Moenie meer as EEN swammiddel wat in Groep 11 val per seisoen gebruik nie.

· Indien ’n tweede Sclerotinia-toediening gedoen moet word, moet die tweede swammiddel uit ’n ander swammiddelgroep wees.