Boervrou van die jaar competition

FINALIS: LIESEL VERMAAK BOER MET MOED

Liesel Vermaak

Van die klaskamer na die stofpaaie van die plaas. Liesel Vermaak se pad na die plaas was allesbehalwe konvensioneel. Vandag is sy ’n boer in murg en been en staan sy nie terug vir enige uitdaging wat die plaaslewe na haar kant gooi nie. Liesel was vanjaar een van die finaliste in die Bayer Boervrou van die Jaar-kompetisie in die afdeling vir vroue wat boer.


Liesel se reis het in Sunninghill, Sandton begin waar sy grootgeword het. Gedurende haar hoërskooljare het sy na Bronkhorstspruit verhuis waar sy haar skoolloopbaan voltooi het. Na skool was dit die onderwys wat haar eerste geroep het. Sy het haar graad in BEd Seniorfase-onderwys behaal en ook haar honneurs in wiskunde voltooi. Vir die volgende 11 jaar het sy ʼn tuiste gevind as ʼn hoërskool wiskunde-onderwyseres. Drie jaar na haar troue in 2014 het Liesel egter die skoolgange vir die plaaspaaie verruil en besluit om voltyds te begin boer.


Vandag boer sy met mielies, soja, lusern, groente, waatlemoene, angorabokke en beeste op hul plaas, Vermaak Boerdery, buite Bronkhorstspruit. Vir Liesel beteken boerdery om na die natuur te luister en nederig te bly. “Dit wat jy insit sal jy uitkry,” sê sy. “Nie een dag is dieselfde nie. Elke dag kom met nuwe uitdagings.”


Dis juis hierdie onvoorspelbaarheid wat haar na dié beroep aangetrek het. “As vrou is dit definitief nie maklik om te boer nie. Dit is harde werk en lang ure, maar dit wat ek uit die natuur kry, is absoluut die moeite werd. Dan maak dit sommer die lang dae die moeite werd! Boerdery moenie ’n werk wees nie. Dit moet wees hoe jy leef. Boerdery moet jou passie wees.”


Ten spyte van die talle uitdagings waarvoor sy daagliks te staan kom, vind Liesel haar fondasie in haar geloof. “Die feit dat ek weet sonder God is ek niks nie. Elke saadjie vorm ’n nuwe plant, maar nie deur ons krag nie – deur God se genade alleen. Ons is afhanklik van Hom vir elke druppel, elke oes.”


Liesel is ook dankbaar vir die steunpilaar wat sy in haar man het. “Hy inspireer my nie net deur hoe hard hy werk nie, maar deur hoe hy my drome as sy eie hanteer. Hy help my om te glo dat dit moontlik is. Hy loop elke tree saam met my.”


Vir Liesel is ’n groot deel van haar roeping om haar werkers en die mense naaste aan haar te leer oor die belangrikheid van die natuur. “Om jou werkers te leer boer is nie werk nie; dit moet jou passie wees.”


Daarmee saam is Liesel ook reeds vir jare betrokke by die Loerie Jeugsentrum in Bronkhorstspruit waar sy bystand verleen aan hul projekte, veral fondsinsamelings.


Haar raad aan ander vroue? “Boer met moed. Jy hoef nie alles te weet nie. Jy moet net bereid wees om te luister, te leer en aan te hou. Ek sê mos ’n boer sal val, maar hy sal elke keer weer opstaan. ’n Boer sal nooit gaan lê nie.”