Sy wil onthou word as ’n vrou wat vir ’n beter lewe deur middel van landbou geveg het.
Katlego Kubedi, wat pas aangekondig is as die wenner van die Bayer Boervrou van die Jaar 2025-kompetisie in die kategorie Vroueboer sê sy hoop om onthou te word as iemand wat die saad van verandering geplant het, wat met hart geboer het, ander opgehef het en ’n nalatenskap van groei agtergelaat het.
Katlego, ’n kranige en betrokke enkelma, sê sy het nie boerdery gekies nie; dit het haar gekies. Haar reis met boerdery het in Makouspan in Mahikeng, Noordwes, begin, waar sy met hoenders in ’n klein agterplaastuin begin het.
Met verloop van tyd het Katlego haar boerdery met gewasse en vee uitgebrei. Vandag is haar familieplaas tot volhoubare praktyke en die opheffing van die gemeenskap verbind. Hulle verskaf produkte aan studente van die Noordwes-Universiteit, Mafikeng Nursing College, Taletso College, sowel as snoepwinkels, spysenieringsmaatskappye en meer.
Sy het haar plaas met beperkte hulpbronne omskep in ’n plek van ontwikkeling, persoonlike groei, leer en vrygewigheid, waar sy gesinne help voed, jong boere mentor en ’n inspirerende voorbeeld vir vroue in boerdery stel.
Vir Katlego is boerdery ’n vennootskap met die natuur. Sy glo dit vereis geduld, respek en ’n voordurende bereidwilligheid om te leer. Sy is veerkragtig, doelgerig en gegrond in haar waardes. Haar familie en geloof hou haar aan die gang en om met grond en diere te werk, bring Katlego nader aan God.
Katlego se reis
Ek het in Noordwes grootgeword in ’n klein landelike dorpie genaamd Khunwana. Later het my gesin na Bethel Village verhuis. My skoolloopbaan het by die Khunwana Primary School begin, waarna ek oorgeskuif het na die Itlotleng Secondary School en daarna was ek in die Magongwane High School. Nadat ek na Bethel verhuis het, het ek standerd 9 en my matriek by ZM Seatlholo, geleë in Lotlhakane, ’n dorpie naby Bethel, voltooi. Kort ná matriek, is ek getroud en het na Makouspan verhuis op soek na beter geleenthede. Dit is waar my boerdery-reis begin het.
Ek was 18 jaar lank getroud en is geseën met vier kinders, twee seuns en twee dogters. Ná my egskeiding, het ek na Mandela Park Village verhuis en sonder enige tersiêre opleiding, ten volle op my boerdery gefokus om my kinders te onderhou. Ek het ingeskryf vir kortkursusse en leerlingskappe wat aangebied is deur Mahikeng se plaaslike landboukantoor, die Lima Rural Development Foundation, Graan SA en die Kleinsake Ontwikkelings- en Finansieringsagentskap (SEDFA), waar ek waardevolle kennis en ervaring opgedoen het. Later het ek my pluimvee- en veeboerdery uitgebrei na ’n gemengde boerdery, waar ek nou ook graangewasse verbou.
Hoe het jy by boerdery uitgekom?
Ek het nie boerdery gekies nie; boerdery het my gekies. Dit loop in my are en leef voort deur my kinders. Ek was ’n jong ma, vroeg getrou en het vasgevang geraak in roetine-take. Ná my egskeiding was ek werkloos, ek het geen kwalifikasie gehad nie en het gesukkel met gehoorverlies. Met my geloof in God, het ek my stokperdjie onthou waar ek braaikuikens in my tuin grootgemaak en versorg het. Ek het geweet ek kon weer daarmee begin, ’n bestaan maak en vir my kinders sorg.
Opbou van ’n boerdery
Ons plaas is in die Mandela Park Village geleë. Ek het op gemeenskaplike grond met my boerdery begin met slegs ʼn eenvoudige hoenderhok en ʼn groentetuin van minder as een hektaar. Sonder ’n boorgat het ek op reënwater staatgemaak en water met ’n kruiwa by bure gaan haal. Ek het aanvanklik op braaikuikens gefokus en dit by staatstoelaagbetaalpunte, op straat en aan nabygeleë gemeenskapppe verkoop. Dit was ʼn klein begin met slegs 20 braaikuikens en pampoene in my tuin. Mettertyd het ek ook met gewasse en grootvee begin boer.
Beskryf ’n tipiese dag op die plaas
My dag begin voor sonsopkoms, wanneer ek deur die landerye stap. Ek kyk na die gewasse, voer die diere en vergader met my span om die dag te beplan. In die middae doen ek administratiewe werk, opleiding en mentorskap van jongmense wat in boerdery belangstel. Die aande is gesinstyd, waar ek dikwels met my kinders oor plaasaangeleenthede praat, omdat hulle passievol oor landbou is en gretig is om meer daarvan te leer. Ek koester vroeë oggende op die plaas, wanneer die mis laag oor die lande lê, daar ʼn vars luggie waai en alles moontlik voel.
Uitdagings as ’n boer
My grootste uitdagings is onvoorspelbare weer, beperkte toegang tot befondsing en om my vrou te staan in die landboubedryf, wat meestal deur mans gedomineer word. Soms is dit oorweldigend, maar ek kan nie wegstap van iets wat ek liefhet nie, iets wat my ’n doel gee en kos op die tafel sit. Elke uitdaging is ’n les en ’n geleentheid om sterker te word.
Wat inspireer jou?
Ek word geïnspireer deur die resultate van harde werk. Voorts is ek trots om ’n selfgeleerde boer te wees, wat by ander leer, asook uit boeke en daaglikse ervarings. Ek sal nooit die vreugde vergeet van wat dit was om my eerste 20 kuikens groot te maak nie. As ek dit sonder enige ondervinding kon doen, dink net wat moontlik kan wees. Wat my gelukkig maak en waarin ek vreugde vind, is om tot Suid-Afrika se voedselsekerheid by te dra.
Woorde van bemoediging aan ander vroueboere
Glo in jou eie krag. Moenie wag vir toestemming om te lei nie. Leer, vra vrae en bou ’n ondersteuningsnetwerk. Sukses gaan nie net oor oeste nie. Dit gaan oor impak.
Gee terug
Ek mentor die jeug, bied landbouwerkswinkels aan en bemoedig inklusiewe boerderybeleid. Ek streef daarna om tradisie met innovasie te oorbrug en landelike drome in werklike geleenthede te omskep.
Gemeenskapsprojekte
Ek bestuur kleiner projekte om vir die juig landbouvaardighede aan te leer. Daarbenewens skenk ek ook produkte aan skole, kleuterskole, kerke en begrafnisse. Van die inkomste uit die boerderyaktiwiteite word ook gebruik om skoolskoene vir kinders te koop en ek neem deel aan loopbaandae om landbou te bevorder. Ek help ook jongmense om aansoek te doen by landboukolleges, befondsing te kry en leer hulle ook van leerling- en -internskappe. Elke jaar bied ek aan ’n jongmens die geleentheid om ’n internskap op my plaas te doen vir praktiese ervaring.
Nalatenskap
Ek het met niks anders as geloof en die genade van God begin nie. As ek dit kon maak, kan ander ook.