Margerite van Niekerk, wat saam met haar man, ouers en broers op ’n plaas in Brits in Noordwes boer, glo haar roeping is eenvoudig en kosbaar. Sy leef elke dag met betekenis, met haar sagte voete op harde grond en ’n hart wat oop bly sodat sy kan groei, glo en voluit leef.
Margerite is onlangs aangekondig as die wenner van die Bayer Boervrou van die Jaar 2025-kompetisie in die Boervrou-kategorie.
Die Jan van Rensburg-plaas is ’n familieplaas waar Margerite, as die oudste van drie kinders en die enigste dogter, daagliks ’n aktiewe rol speel. Al drie die Van Rensburg-kinders is getroud en werk voltyds saam met hul gades op die plaas.
Sy geniet dit terdeë om saam met haar familie te werk. Almal doen hul deel, en saam bou hulle iets groter as hulself. Margerite erken dat dit nie altyd maklik is nie, maar daar is ’n diep vreugde in hul samehorigheid, die spanwerk en die trots wat hulle voel wanneer iets goed uitdraai.
Sy sê die plaaslewe leer jou dankbaarheid, nederigheid en deursettingsvermoë. Sy hou daarvan om deel te wees van iets, iets wat stewig gewortel of geanker is en iets wat lewe gee.
Waarmee boer julle?
Ons familieplaas bestaan uit groente- en graangewasse as deel van ’n beplande wisselboupraktyk. Die gewasse wat ons plant, sluit onder meer koring, sojabone, beet, wortels, patats, botterskorsies, uie en kool in.
Wat is jou rol?
Ek is betrokke by die daaglikse bestuursaspekte van die plaas. Ek vervul die rol van finansiële administrateur en bestuur al die kantoorwerk agter die skerms. Hoewel ek nie self in die lande werk nie, is ek aktief betrokke by die beplanning en organisasie van alles wat die plaas se bedrywighede glad laat verloop. My verantwoordelikhede sluit in die hantering van bestellings – soos saad, gewasbeskermingsprodukte en verpakkingsmateriaal. Ek stel ook werkskedules op, berei verslae voor en kommunikeer met verskaffers en kliënte. Ek werk nou aan dataverwerking en die finansiële bestuur van die plaas saam met ons rekenmeesters. My rol is ondersteunend, maar strategies: ek help om orde, struktuur en vooruitbeplanning na die groter prentjie van die boerdery te bring.
Hoe lyk ’n tipiese dag op die plaas?
My dag begin altyd met die Here – sonder dié fondament, werk niks nie. Om 06:30 kom my man, broers, pa en die voormanne bymekaar vir ’n kort oggendvergadering en gebed. Terselfdertyd maak ek seker dat die kinders betyds by die skool is. Daarna drink ek vinnig ’n koppie tee saam met my ma, pa en een van my broers terwyl ons die aksieplan vir die dag bespreek. Teen 08:00 is ek fisies in die kantoor, waar ek fokus op administrasie, beplanning en die finansiële kant van die plaas.
Margerite verruil egter maklik haar hakskoene vir stewels, want die woorde “dis nie my werk nie”, bestaan nie op die plaas nie.
Vertel ons meer oor jouself en jou gesin
My man is my grootste ondersteuner. Ek is getroud met my hoërskoolliefde en vanjaar vier ons 13 jaar van getroude lewe saam. Dit is iets waarvoor ek ongelooflik dankbaar is. Ons het twee pragtige kinders wat ons harte elke dag met trots en dankbaarheid vul. As ’n gesin is ons lief vir die buitelewe – of dit nou op die plaas is, ’n Saterdagbraai saam met vriende of net ’n rustige stap in die veld. Ek is ’n baie kreatiewe mens en hou daarvan om met my hande besig te wees. Kreatiwiteit is nie net ’n stokperdjie vir my nie, dis ’n lewenswyse. Ek is lief om te gee, want dit is my manier om liefde en lewe te toon.
Wat is jou grootste uitdagings?
Die onvoorspelbaarheid van die natuur is een van die grootste uitdagings in ons boerdery. Droogtes, oormatige reën of reën op die verkeerde tye kan weke of selfs maande se beplanning in ’n oogwink ontwrig of verander. Hierdie onstabiliteit plaas nie net druk op die produksie nie, maar ook op besluitneming en finansiële volhoubaarheid.
Wie of wat inspireer jou?
My grootste inspirasie is my geloof. Dit is my anker en my gids, veral wanneer dinge moeilik raak. In ’n wêreld waar soveel buite jou beheer is, gee dit my gemoedsrus en hoop om elke dag met vertroue te trotseer. My ouers se inspirasie is ook besonders en diepgaande. Daarbenewens is my man is ’n groot bron van kalmte en motivering in my lewe.
Wat maak jou gelukkig?
Geluk vir my, lê nie in groot dinge nie. Dit is in die oggendson wat oor die lande opkom. Dit is ’n koppie oggendkoffie in die stilte voordat die dag se haas begin. Dit is in die lag van my kinders, die ondersteuning van my man en die wete dat ek elke dag met my hande en hart kan werk aan iets wat saak maak. Geluk is om met toewyding te leef, met dankbaarheid te boer en met liefde te dien.
Wat behels jou gemeenskapsbetrokkenheid?
As ’n familieplaas is ons op verskeie maniere by ons gemeenskap betrokke. Ek sien dit as ’n voorreg om my roeping op hierdie manier uit te leef. Ons ondersteun die Cornerstone- en Ons Huis-kinderhuise in ons omgewing, onder meer deur ’n maandelikse bydrae en ons verskaf vars produkte aan dié kinders.
Ons werkers kom grootliks uit die Skierlik-gemeenskap. Vir dié rede verskaf ons plaas vars groente om die voedingskema van Laerskool Tebogo te ondersteun.
Ons is ook betrokke by ’n plaaslike organisasie, Soetdoring, wat praktiese hulp bied in noodsituasies soos brande en stormskade, en dit bied ook krisisbystand binne die gemeenskap.
Ek is ook by Laerskool Olienpark betrokke, waar ek as die finansiële voorsitter van die beheerliggaam dien.
Dis nie net ’n plig vir my nie. Ek leef my roeping uit en kan ander met oop hande en ’n oop hart dien.
Kan jy raad aan ander boervroue gee?
Anker jouself elke dag in die Here. Jy hoef nie alles self te dra nie, want Hy dra jou. Wanneer die dae lank en moeilik is, onthou dat jy geroepe is na hierdie lewe, na hierdie land, na hierdie mense.